Maar dit help nie ek raak vir news24 kwaad nie. Die vrot wingerd is op ‘n kankerdraende onderstok ge-ent. Elke keer as ek in Suid-Afrika is, maak ek tyd om in Bonnievale by my ma te kuier waar ek tyd kry om Die Burger te lees. Vir iemand wie se duime nou al bedrywig om die sosiale media netwerke woel, is daar selde nuus in Die Burger te lees wat nog nie klaar op my draagbare telefoon, digitale teel of Ouma se televisie geflits het nie. En as ek wil weet wat in my onmiddellike omgewing aangaan, is ek beter af in Herfsvreugde se teekamer. Daar weet die ouetehuis se tantes (die ooms leef nie lank genoeg nie) goed wat die nuus in die distrik is. Hulle gebruik stukkies ‘tegnologie’ wat deesdae in die media in onbruik verval het: praat en skinder.
Gewoonlik as ‘n koerant op die nuus-front uit die bus bliksem, wend hy hom tot menings, soos wat Die Burger inderdaad doen. Terwyl die boek-resensies, soos nog altyd, insiggewend is, is die gross van die menings oor aktuele sake maar so-so. Dis byna asof die Stellenboch paradigma (a shared body of beliefs) te veel van ‘n dink-kombers om die skedels klem.
Daarom is ek nie verbaas om die week te lees dat Afrikaanse koerante verby water-trap is nie. In 1997 het Afrikaanse dagblaaie 243,915 koerante per dag verkoop. Deesdae is dit 149,062. Dis amper 40% minder. Afrikaanse weeklikse titels het ook getuimel van 619,755 in 1997 tot 409,571 vanjaar. Dis ‘n val van so 34%.
Wat die diknekke met die drank-asems daar by Naspers (die maatskappy het glo deesdae ‘n nuwe naam) heel eerste gaan gil is die afgesaagde argument dat die koms van die internet die begin van die einde van die gedrukte media was en daar nie veel kamfer olie te smeer is nie. Tweedens gaan hulle hyg dat die Engelse koerante net so swak vaar.
Ek sal saamstem met die tweede argument. Engelse koerante in Suid-Afrika is ook vrot. Ek het my laaste 5 jaar in Suid-Afrika vir Engelse dagblaaie gewerk en gesien waarheen hulle op pad is. Maar die eerste argument is ‘n erge vereenvoudiging van die ware situasie. Hier in die Verenigde Koninkryk en in Europa val sirkulasie-syfers ook, maar nie naastenby so vining soos in Suid-Afrika nie. Die val hier is maar enkele persentasiepunte en sommige titels – soos The Daily Star en ‘i’ se sirkulasie-syfers is aan die klim. Dit maak geen sin as mens in ag neem dat die toegang tot die internet hier veel goedkoper en blitsiger as in Suid-Afrika is nie. Die elekroniese teeltjies en speelgoed waarmee ons hier op die internet inskakel is relatief tot inkomste veel goedkoper as in Suid-Afrika en selfs die mense wat werkloos is loop met hope van Bill Gates en oorlede Steve Jobs se speelgoed rond.
Regdenkendes sou dus verwag dat mense lankal hier sou opgehou koerante koop het, maar hulle doen nie. Die hoofrede is omdat die meeste koerante hier nog steeds ‘n goeie standaard joernalistiek pleeg. Daarmee bedoel ek dat die gedrukte nuusprodukte se inhoud oor die algemeen nog nuut en toepaslik (relevant) is.
Met nuut bedoel ek dat ondersoeke gedoen word wat daartoe lei dat feite gepuliseer word wat nog nie voorheen op ‘n ander manier uitgeblaker is nie. Die koerante met so ‘n reputasie verkoop goed. As nuus wel op Twitter of op ‘n webwerf gebreek het, is die gedrukte opvolg-berigte vol nuwe feite, en perspektief word gegee aan dit wat reeds bekend is. Toe Anni Dewani in Kaapstad vermoor is, was die koerante hier so ver voor die Suid-Afrikaanse koerante dat ek moes bloos. Die Burger het berigte uit Britse koerante vertaal en as nuus in die Wes-Kaap opgedis. As dit is hoe hulle te werk gaan met ‘n storie wat in hul eie agterplaas breek, wil ek nie dink in hoeveel meer kak hulle gaan trap as ‘n groot brok nuus in die buurman se jaart beland nie.
Met toepaslik bedoel ek dat die meerderheid potensiele lesers aanklank vind by die meerderheid van die inhoud. Londen is ‘n stad met ‘n bevolking van uiteenlopende agtergronde. Jy kan op enige stappie stasie toe 12 tale hoor en soms nie een keer Engels nie. Tog kry die dagblaaie dit hier reg om die balans van inhoud so te skommel dat Turk, Pool en Boer saam lees.
So waarom in ‘n land waar Afrikaans die derde grootste taal naas Zulu en Xhosa is, die internet belaglik duur is en die speelgoed om die internet mee te lees nog duurder is, sukkel Die Burger om koerante teen kleingeld te verkoop? Kom ons vergeet vir nou van die manier waarop Die Burger homself in die Apartheidsjare stink gesmeer en polities pateties geposisioneer het, en fokus op die hier en nou. Dan is die antwoord meer eenvoudig: Omdat behoorlike joernalistiek nie gepleeg word nie…
Die Burger het eenvoudig nie meer nuus nie. Nie internasionale nuus, plaaslike nuus of streeknuus nie. Hy het geraamtes van ou stories. Boonop neem die balans van die inhoud nie die massa voornemende kopers daarbuite in ag nie. Ek wonder soms, vir wie skryf die mense? Ek vra nie aap Die Son na nie, ek vra bloot skryf vir regte mense, nie vir Prof. Kombuis teen Tamboerskoof se rand nie.
En laastens, julle menings is voorspelbaar en eendimensioneel.
Maar terug by nuus. Mense sal Die Burger koop as die stories wat ek in Herfsvreugde se teekamer gehoor het daarin verskyn. Dalk sal die mense in Malmesbury nie daarin belang stel nie, maar daarvoor het mens mos streek-blaaie. Streeknuus, net soos gewone nuus, diskrimineer nie. ‘n Goeie nuus-storie sny oor ras- en klasgrense heen.
Om dit te doen het jy bekwame joernaliste nodig. Die Burger en sy suster-koerante het jare laas ‘n belegging in goeie joernalistiek gemaak. Die mense wat die boontjies by Naspers tel het ‘n skewe som gedoen. Hulle het gemeen koerant inhoud kom goedkoop. Dis daardie inhoud wat lesers nou weeg en poepgewig vind. Ek ken nie baie generasies van Burger journaliste nie, maar ek kan die name noem van ‘n paar wat goed en jonk was in die jare 80 en ook 90. Een is nou die Persombudsman en nie ‘n senior redakteur van Die Burger waar hy hoort nie. ‘n Ander werk hier duuskant my by ‘n digitale uitgewer in Londen. Nog een voer onderhoude met filmsterre wat hy ten duurste aan my verkoop om in ons tydskrifte te publiseer. Nog een het by die staat gaan werk, ‘n ander een by die mediese navorsingsraad en so kan ek aangaan. Hulle was almal mense wat nie na-praters of lui-gatte was nie. Hulle was mense wat lief was vir joernalistiek, maar darem ook daarvoor betaal en bevorder wou word. Party het teengepraat of vuisgeslaan en geloop, ander het sit en wag op bevordering of verhoging en so in die wag ook maar geloop.
Baie van die wat agtergebly het, moes hulself in die bestuur inwerk om verhogings of bevordering te kry. Soms moes nare gunste gedoen word vir die voorreg (wag vir my boek). Nog meer moes so baie gatkruip of saampraat dat hulle deesdae nie meer asem haal of ‘n opinie het nie. Ek kry die arme bliksems deur die bank jammer.
Dis nie my plek om Die Burger se konsultant te wees nie. Ek wil egter veel eerder ‘n poephol wees. Wanneer iets gebeur, is daar mos altyd ‘n poephol wat meen hy het geweet dit gaan gebeur. Op ‘n mooi dag gaan Koos Bekker met sy verwyfde rolnek-truitjie by Die Burger se kantore instap en halt roep aan die hele klaaglike boksemdaais. En as hy dit nie doen nie, is hy nie die demi-god van ‘n sake-man wat hy voorgee om te wees nie.
Op daai dag gaan ek terugdink aan my besoek aan Die Burger se kantoor in Port Elizabeth in 2004 of 5. Daar was ‘n plakkaat teen die muur met die woorde: “Trek julle valskerms aan.” Ek wou noodwendig weet waaroor dit als gaan. “Dis oor ons sirkulasie so hoog gaan klim”, is aan my verduidelik deur iemand wat hoegenaamd nie bevoeg was om daar te werk nie (regstellende aksie het hier ‘n rol gespeel, maar dis ‘n uitklophou wat ek op ‘n ander dag sal plant).
Siestog, shame, foeitog, fok. Ek het toe al besef die arme sotte moet maar die valskerms kry. Dis nie as jy hoog vlieg wat jy een nodig het nie, dis wanneer jy in jou moer in val…
Piet van Niekerk is redakteur en reis-verslaggewer van aanboord lugredery tydskrifte in Londen. Hy skryf ook stories oor nuwe karre en F1 motorwedrenne vir United Airlines, Gulf Air, Brussels Airlines, Jazeera Airways, Thomas Cook Airlines en so halfdosyn afslag- en halfprys lugrederye. Hy was ‘n tyd lank buitelandse korrespondent vir RSG en het gereeld met Fonnie du Plooy regstreeks op die radio oor F1 gesels. In Suid-Afrika was hy ‘n lektor in die joernalisitiek by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en verslaggewer vir die Daily Dispatch en EP Herald. Hy het ‘n meestersgraad in media etiek en het sy regstudies na net twee jaar opgeskop. In 1999 het hy as nuusredakteur van Die Burger in die Oos-Kaap bedank nadat hy die sirkulasie-syfer van die koerant tot die hoogste punt ooit opgestoot het, maar min in gemeen gehad het met Naspers so diktrille. Hy hou van suur druiwe, verkies om brue op te blaas eerder as om dit te verbrand en stel glad nie belang in die mening van mense wat nie met hom saamstem nie. Sy menings is sy eie en ofskoon ons dit nogal laaik, nie noodwendig die van SA Promo magazine nie.