Beste Riaan
Ek dink in die laaste paar dae knaend aan jou, al het ons mekaar nog nooit ontmoet nie. Soos miljoene ander mense ken ek jou net as die man wat saans die nuus op televisie lees – die man wat nooit oud geword het nie.
Nou, skielik, gaan jy aftree. Ná vanaand sal jy nie meer daar wees wanneer ek saans om sewe op my groen bank voor die televisie gaan sit nie.
Hoekom ek effens verdrietig daaroor voel, weet ek nie.
Ek wil jou bedank, maar hoe sê ‘n mens dankie vir iemand wat jou al vir soveel jaar daagliks vertel van moorde en tsoenami’s, bomontploffings en mynrampe?
Stakings. Springbok-nederlae.
Ly jy nie aan posttraumatiese stres nie? het ek al gewonder. Kry jy nie soms snags ‘n nagmerrie nie?
Ons kan saans voor die televisie sit, en terwyl die nuus aan die gang is, kan ons opstaan en loop wanneer ons iets nie wil sien nie, iets te wreed, te hartseer, te ontstellend. Ons kan selfs voor die televisie sit en huil.
Soms, om van my frustrasie oor dinge in die land ontslae te raak, skreeu ek lasterlike goed wanneer party gesigte op die skerm verskyn.
Of ek sal sommer hardop wonder wat die gemiddelde liggaamsgewig van ‘n LP in ons parlement is.
(Ek skat dit is 105 kg plus.) Maar jý kan dit nie doen nie. Jy moet net daar sit en alles waardig met ons deel.
Jy het glo omtrent 7 000 bulletins gelees, oor ‘n tydperk van 35 jaar.
Dis ‘n onrusbarende gedagte: Ek was nog op skool en het nog geglo aan die onvernietigbaarheid van die NP en die verdienstelikheid van tienman-rugby toe lees jy al die nuus.
Elvis het nog geleef, Madiba was in die tronk en Sarel van der Merwe het nog in ‘n Ford Escourt gejaag.
En toe is jy al daar, Riaan. Ek het al gedink die doodsengel moet iemand soos jy wees. Ek spot nie. Dis asof jy die gawe het om die onafwendbare met gesag en waardigheid te kan oordra.
Uiteraard het jy oor die jare heen ook goeie nuus vir ons gebring. Ek onthou veral in 1994 – 25 April 1994, die dag voor ons land se eerste algemene verkiesing.
Ek en my oorlede pa het voor ons Telefunken-stel op Ventersdorp gesit.
Die rakke in ons spens was volgepak met noodvoorrade vir wanneer die burgeroorlog die volgende dag sou uitbreek: blikkies boeliebeef en sardyne en tuna, noedels, droë vrugte.
“Jaaa,” het my pa in die TV se rigting gesug. “Wonder wat gaan ou Riaan môreaand sê?”
In my verbeelding het ek gesien hoe verskyn jy die volgende aand op die skerm met ‘n bloedvlek op jou hemp en jou das windskeef met twee gewapende guerrillavegters wat agter jou staan, terwyl jy in Engels verklaar: “Don’t panic, people. The rebel forces are in complete control …”
Die volgende aand – 26 April 1994 – was ek en my pa weer voor die Telefunken. Op die skerm het lang rye mense by stembusse gewag om te stem.
En daar was jý, immer jonk, das reguit soos ‘n skietlood om jou nek. Onberispelik. Waardig.
“Kyk net hoe bly is ou Riaan,” het my pa dadelik opgemerk. “Kyk net hoe verlig is die ou.”
Dis eintlik óns wat bly was omdat die oorlog toe nie gekom het nie, maar oor die jare heen het ons iets van onsself in jou begin sien, Riaan.
Of liewer: Ons wou ook soos jy wees. Ons wou ook, soos jy, met waardigheid op die nuus reageer.
Ek kyk altyd hoe jy aan die einde van ‘n bulletin jou pen optel en in jou baadjie se sak druk.
Daar is iets gerusstellends daarin, byna soos die Amerikaanse president wat aan die einde van ‘n toespraak sê: “God bless the United States of America.”
Iets in daardie klein gebaar laat jou besef die lewe wankel tussen tragedie en genade. Dis ons aardse bestaan. Dit is só.
Ek lees party mense sê die nuus gaan nooit weer dieselfde wees nie. Dis nie waar nie, glo ek.
Die nuus gaan weer dieselfde wees: Daar gaan weer moorde wees, en rampe, en Bok-nederlae. Maar jy gaan nie meer daar wees nie.
Vanaand tel jy jou pen vir die laaste keer op en druk dit in jou sak.
Daarna gaan ons almal ‘n bietjie meer alleen en weerloos wees in hierdie tyd waarin daar so baie slegte nuus is.
Geniet jou aftrede.
Dankie, ook vir die slegte nuus.
Dana