Steve het sy vroeë loopbaan as akteur begin en het in verskeie verhoogproduksies, flieks en sepies verskyn. Hy het bekendheid verwerf vir sy rol in Agter Elke man en het selfs ‘n draai in 7de Laan en Egoli gemaak. Om te dink dat hierdie man eens op ‘n tyd te skaam was om te sing en ‘n DJ wou wees sodat hy ander sangers se rekords kon spin klink nie vir ons reg nie, maar dit is die geval. Steve was eers in verskeie bands voordat hy werklik bekendheid as sanger verwerf het.
Daarna was daar geen keer nie en Steve het oor die jare album na album uitgereik. Ja, daar was ook kontroversie en Steve het soveel in die media beland vir verkeerde redes, maar dit lyk nie asof dit sy populariteit skade aangedoen het nie.
Na ‘n stil tydperk van twee jaar het Steve verlede jaar sy langverwagte 23ste album uitgereik. Dit kom na hy weer sy inspirasie gevind het op toer na Budapest, Vienna en Praag. Hy vertel sommer reguit dat hy voorheen glad nie meer romanties gevoel het nie en alle inspirasie om oorspronklike musiek te maak, verloor het. Dit is as gevolg van die gesondheidsuitdagings wat hy in die oë gestaar het.
Duisend en Een is verlede jaar vrygestel en bevat 17 liedjies waarvan hy 11 self geskryf het. Hierdie CD bevat iets van alles en sluit liefdes-ballades soos Sê vir almal jy is myne en Juliet in. Daar is natuurlik ook die bekende pop liedjies waarvoor Hofmeyr so bekend is wat hom beslis speeltyd op radio en TV sal besorg. Die liedjie waarna baie uitsien is Liefling wat in 2009 saam met Patrizio opgeneem is gedurende een van sy toere na Suid-Afrika.
Vervaardigers soos Mauritz Lotz, Werner Beukes en Kevin Kruger het beslis gehelp om Duisend en Een ‘n meesterstuk met net die beste kwaliteit musiek te maak en Hofmeyr weet dat hy sy gehoor in ag moet neem en meen dat hy sy musiek maak met net hulle ingedagte.
Hierdie man het soveel talent, en ons het besluit dat Steve die perfekte Valentyn vir Februarie sal wees! Hierdie ikoon sing sommer maklik die pad na ‘n vrou se hart oop. Duisend en Een is dus die perfekte geskenk om enige hart bly te maak of warmer te laat klop. As ons nie die man self kan kry nie, moet die CD maar doen… Ons sien uit na die volgende een wat later hierdie jaar bekendgestel word.