‘n Brandewyn drinker druk ook tussen slukke dikwels sy glas hier voor hom teen sy maag vas, asof hy sy maag agter die glas probeer wegsteek. Kyk maar.
Dis iets wat ‘n cane drinker byna nooit doen nie. ‘n Cane drinker sit sy glas altyd tussen slukke op die toonbank neer. Dis omdat cane drinkers meestal sit en drink.
‘n Brandewyn drinker staan graag en drink. Jou brandewyn drinker is ook gewoonlik die eerste een in die kroeg wat die kroegmeisie aanvat oor die musiek wat oor die luidsprekers speel. ‘Haal af daai gemors, toe,’ sal hy hier ná die derde dubbele Klipdrift sê. ‘Sit vir ons Delarey op.’
Tog is dit nie brandewyn drinkers wat Bok van Blerk se liedjie Delarey die hardste saamsing nie. Dit is die rum drinkers. Luister maar. Dis omdat rum drinkers oor die algemeen meer aggressief as brandewyn drinkers is. Dit is die waarheid.
‘n Brandewyn drinker kan ook aggressief wees, maar sy aggressie is dikwels gerig teen groter groepe:
WP-ondersteuners in die algemeen of loodgieters, of watter groep ook al – soos mense wat oorsee gaan bly het. Maar glimlag bietjie vir ‘n rum drinker se meisie en kyk wat gebeur: Hy sal na jou gluur en gluur en gluur; en dan moet jy maar liewer die kroeg verlaat, meneer, want jy kan dalk seerkry.
As ‘n rum drinker boonop Cream Soda of Sparberry by sy rum drink, is hy eers gevaarlik. Wees gewaarsku.
Vodka drinkers kan ook aggressief wees, maar hulle pass dikwels uit voordat hulle jou kan slaan. Of hulle vergeet waaroor hulle jou wou slaan en koop vir jou ook ‘n vodka sodat jy ook kan vergeet.
Gin drinkers is die onaggressiefste van die lot. Dit is asof gin steeds goeie koloniale maniere in drinkers losmaak. Jou gin drinker hou altyd sy glas ver van sy lyf af, asof hy bang is hy kan daardie bitter smaak ruik. Let maar op. (Dis dalk gin wat maak dat party Britte so ‘n bitter gesigsuitdrukking het.) Gin drinkers lag nie sommer nie. Jou brandewyn drinker lag die maklikste van almal. Jy vertel vir hom die flouste grap, dan, kwa-kwa-kwa hy. Jou brandewyn drinker vertel ook laataand vir jou Tolla van der Merwe-stories en maak asof dit sy eie is. Cane drinkers vertel byna nooit stories nie. Cane drinkers sit dikwels iewers alleen en mompel dinge vir hulself.
Whiskey drinkers, weer, sê graag vir mekaar die dinge hardop wat cane drinkers net vir hulself mompel. Whiskey drinkers probeer graag diep wees. ‘n Whiskey drinker sal iets sê soos: ‘I know that I’m forgiven, but I don’t know how I know’ en dan sal hy goed oor homself voel. ‘n Whiskey drinker druk ook sy glas dikwels in die middel van sy borskas vas, asof hy sy hart wil wegsteek. ‘n Brandewyn drinker se glas is ook altyd halfleeg, nie halfvol nie. Ek weet dit, want ek was self ‘n ernstige brandewyndrinker.
“Barman, ‘n koue Castle vir my asseblief!”