Dis alles name wat gegee word aan die een ding wat ons as Suid Afrikaners almal doen. Of ons nou goed is daarmee en dit graag doen, of die ritme van ‘n baksteen het en dit minder gereeld doen. Een of ander tyd in jou lewe het jy dit verseker al aangepak. En hoekom nie? Dis deel van jou geskiedenis en erfenis en, glo dit of nie, instink! Van die begin van tyd af, het mense gedans, dit was dalk nou nie altyd two-steps en dips nie, maar die basics is daar. Mense het in stertrieme gedans na jagtogte en suksesvolle oestye. Maar kom ons kyk verby die eerste paar miljoen jaar van die aarde na die oorsprong van die weergawe van sokkie wat ons ken. Daar is bespiegelinge dat dit afkomstig is van die Amerikaanse Sock-hop, maar ek byt nie aan dit nie. Die Yanks kan nie ‘n hand hierin he nie. Hulle is dan reeds verantwoordelik vir die Credit Crunch. Ek dink dit kom van ons eie erfenis af.
Boeremusiek.
My vroegste herinneringe aan dans is my ma en pa Saterdag na aandete in die voorkamer met een of ander program wat musiek maak op die TV. En meeste van ons is op een of ander soortgelyke manier aan dans voorgestel. Dalk by ‘n troue of kantoor Kersfees-partytjie waar jy onder die tafel wegkruipertjie gespeel het. Dalk het jou ouer suster jou geleer dans voor jy haar skaam maak by die eerste hoërskool-sokkie, of dalk het jy maar net altyd van dans gehou.
Op Voortrekkerkampe het ons op ‘Afrikaners is plesierig’, ‘Daar kom die Alibama’ en ‘Vêr in die wêreld, Kittie’ in groot sirkels gedans, geskoffel en gebokjol. En ek glo dis waar die tipe sokkie wat ons vandag ken vandaan kom. Al wat verskil nou is die musiek is nie meer ‘altyd’ FAK treffers nie, en jy dans meeste van die tyd net met een mens per liedjie, nie elke derde een in die sirkel soos die liedjies aangaan nie. Te danke aan Kurt Darren, Nicholis Louw en vele ander bydraers tot die magdom Afrikaanse Sokkie treffer CD’s op die mark, is daar darem ‘n doef-doef vir enige geleentheid.
En ons doen dit op enige plek. Enige tyd. Want ons is Afrikaans en ons dans.


