Die winter is nie te koud nie en ons kry met uitsondering nooit ryp nie. Die somer kan warm raak, maar daarvoor is daar mos ‘n swembad. Die klimaat is meer sub-tropies.
Nog ‘n ding wat my hier sal hou, is die vriendelike mense. Pretoria-Noord is amper soos ‘n dorpie op sy eie. Ons is vriende met al ons bure. Dit is elke mens se plig om vriende te maak met jou bure. In moeilike en gevaarlike tye het mens mekaar nodig. Moenie wag vir jou bure om uit te reik nie, stap self oor en gaan stel jou self voor. Ons hou so 2 keer ‘n jaar ‘n straatbraai. Ons sit groot braaiers in die straat en kamp op die sypaadjie. Die kinders speel krieket in die straat (gelukkig woon ons nie in die hoofstraat nie).
Ek is baie gelukkig om ook in Pretoria-Noord te werk. Ek is so 2 km van my werk af en al verkeer wat ek op ‘n Vrydag kry, is die Vuilgoedlorrie. Ek sien regtig nie kans om 2 – 3 ure ‘n dag in my motor in die verkeer te spandeer nie.
Verder het ek wonderlike vriende. Ons is so 5 gesinne wat graag saam kamp en kuier. Ons het al na Mosambiek en na Namibië getoer. Ware vriendskap is iets wat geld nie kan koop nie. Dis ‘n voorreg om jou vriende te kies (anders as familie). Vriendskap is kosbaar en jy moet daaraan werk. Gee meer as wat jy ontvang.
In 2007 is ek met borskanker gediagnoseer. Dit was wonderlik hoe my bure, vriende en selfs vreemdelinge in die kerk, my ondersteun het. Kanker is wintertyd. Vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan, beteken ‘n SMS so baie, soos bv: “Jesus, ek bring my vriendin na U, want U weet als. Ek hoor haar swyg, U hoor haar pleit. Ek sien haar glimlag, U sien haar trane en angs. Ek sien wat sy gee, U weet waarvan sy beroof is. Ek ken haar standvastigheid, U ken haar gebrokenheid. Ek sien haar skoon klere, U ken elke litteken in haar siel. Ek beleef haar geloof, U ken haar twyfel. Ek bring haar in gebed tot voor U troon en vra: Here, gee vir haar alles wat sy nodig het.”.
Tydens my behandeling het ek dikwels gevra: “Hoekom ek”. Tot ek eendag besef het, “Hoekom nie ek nie”. Ek dank die Vader dat ek volkome genees is. Dit was ‘n moeilike pad, maar vandag sê ek: “Dankie dat dit ek was”. Kanker het van my ‘n beter en dieper mens gemaak. Ek kyk anders na die lewe, en waardeer elke dag. Mens sien wat is werklik belangrik in die lewe en waardeer die goeie tye soveel meer. Gesondheid is iets wat mens elke dag moet voor dankie sê. Moenie wag dat dit eers van jou weggeneem word, voordat jy dit waardeer nie. Pas jou liggaam op.
Hier, aan die voet van die Magaliesberg, lewe ons, huil ons, lag ons saam en staan ons mekaar by!
Die beste van my area? Die klimaat Noord van die Berg.
Top dinge om te doen? Braai, fliek by Northpark (want dit is lekker stil daar en nie so duur nie), bergklim en fietsry.
Hoe, en wat sal jy verander? Ek sal graag wil sien dat mense meer uitreik na mekaar. Ons moet veral saamstaan teen misdaad.