Beste Tony Ehrenreich,
Ek is vanaand baie hartseer terwyl ek hierdie brief sit en skryf. Ek is ‘n 40-jarige wit boer. Danksy jou is ek vandag een van ‘n groep mense wat gehaat word in hierdie land. Meneer Ehrenreich, in 1994 het ons almal onderneem om ‘n nuwe Suid-Afrika te bou.
‘n Beter, nie-rassistiese, gelyke, reënboognasie. Ons het so mooi begin, met die beste leier in die wêreld. ‘n Man wat na 27 jaar in die tronk steeds besef het ons moet die verlede vergeet en saam vorentoe ‘n nasie bou. Maar meneer Ehrenreich, vanaand pyn hierdie wit boer se hart. Dieselfde kleur hart as joune.
Hier rondom my brand die land. Hierdie land waarvoor ek so lief is. Meneer Ehrenreich, ek bestuur ‘n besigheid wat opgebou is oor 150 jaar. Ja, hierdie besigheid is ouer as die ANC, so dit is iets werd vandag. Hierdie besigheid is egter uitgelewer aan die internasionale vryemark.
Ondanks die feit dat die regering van Suid-Afrika die grootste deel van die inkomste kry (14% BTW en 30% inkomstebelasting), kry my besigheid geen beskerming teen invoere, oorsese ge-subsidieerde produkte of natuurrampe nie.
Tog produseer ek jaarliks genoeg kos vir 1500 Suid-Afrikaners. Vyftig siele leef permanent vanaf hierdie boerdery. Vyftig mense wat elke aand warm bad en met ‘n vol maag in ‘n warm bed gaan slaap. Vyftig mense wat nie bekommerd hoef te wees wat môre vir hul en hul kinders inhou nie. (Ongelukkig moet hulle van vandag af baie bekommerd wees oor wat jy, Tina en Marius Fransman kwytraak.)
Meneer Ehrenreich, dit mag dalk vanuit jou perspektief lyk of ek ‘n ryk boer is, maar gaan vra gerus my bankbestuurder hoeveel geld daar in my bankrekening is teen die tyd dat my oes klaar voorberei is. Vra gerus die ekonome van Suid-Afrika hoeveel is die skuldlas in die landbou-sektor. Dis nie omdat boere sleg met geld werk nie, inteendeel, dis die aard van die natuur en voedselproduksie waarin ons moet werk.
Ja, meneer Ehrenreich, nes my voorvaders en my mede-boere neem ek elke jaar ‘n groot risiko om die oes voor te berei, sonder enige waarborg. Ek gaan leen geld by die bank, gaan koop kunsmis, diesel, onkruiddoder en betaal lone, sonder die versekering dat ek ‘n opbrengs op daardie lening gaan kry. Dis hoekom almal boerdery ‘n dobbelspel noem.
Jy en jou mede ANC-leiers sal egter nie hierdie beginsel verstaan nie want julle gebruik mos regeringsgeld om al jul planne uit te voer. Daardie geld wat vir die armes bedoel was, wat gebruik moes word om werk te skep in Suid-Afrika. Hoekom doen jy en jou kamerade nie ook dieselfde as ons boere nie? Hoekom gaan leen julle nie ook by die bank geld en woeker daarmee nie?
Hierdie plase en eiendom wat julle nou afbrand was opgebou uit niks. Hoekom wil jul net altyd bestaande bates afbreek of verdeel en belastinggeld mors? Ons moet tog die koek groter maak sodat daar vir almal ‘n happie is, nie kleiner nie.
Dis entrepeneurs en bouers soos ek wat dit kan doen, landbouers. Hoekom sweep jy nie ook die werkloses op as ANC-leiers R250 miljoen op ‘n huis spandeer nie? Hoekom is jy tjoepstil as die arm kinders van hierdie land nie skoolboeke kry nie, terwyl jou landsleiers in vliegtuie rondrits, van die een partytjie na die ander, om tenders aan vriende en familie uit te deel?
Hoekom hoor ons nie dan van jou of Marius nie? Nee, meneer Ehrenreich, jy verkies eerder om armes en oningeligtes op te sweep om werkplekke af te breek. Die kinders van Suid-Afrika sal eendag van jou lees in die geskiedenisboeke, maar nie soos jy jou verbeel nie.
Die groot ironie is dat daar vele leiers soos jy in die verlede was. Leiers wat burgers van ‘n land teen mekaar opgesweep het. Leiers wat mense aangemoedig het om af te breek, eerder as op te bou. Hoe gaan dit nou in daardie lande? Waar werk hulle nou? Jou naam sal in dieselfde hoofstuk as Robert Mugabe se naam geskryf staan.
Sy land se mense werk nou in jou kinders se plek hier in Suid-Afrika. Waar gaan Suid-Afrika se mense heen trek as julle al die werkplekke hier afgebrand het? Jy het duidelik nie na meneer Mandela geluister nie! Gaan vra hom môre-oggend of hy trots is op wat jy doen vir die mense van hierdie land.
Meneer Ehrenreich, ek wens die kinders van hierdie land sien jou vir wat jy is en kan my sien vir wat ek is. Ek is lief vir hulle en hierdie land, jy is nie. Jy en jou mede ANC leiers voel niks vir hulle of hierdie land nie. Ek hoop die armes van hierdie land sien dat hul net pionne in jul siek magspel is.
Dat jy en Marius Fransman net aan jul eie politieke posisies, met die gevolglike finansiele vergoeding, dink. Dat niemand meer vat by armes en op hulself spandeer as die ANC leiers van hierdie land nie. Meneer Ehrenreich, ek is ‘n beter Suid-Afrikaner as jy. Ek is nie ‘n rassis nie, jy is. Ek het nie ‘n verskuilde agenda nie, jy het. Ek wil hierdie land opbou, ek wil kos produseer en vir mense ‘n werk gee. Wat wil jy doen?
Wit Boer